EDITORIALS

Wat is die verskil tussen wettige en onwettige uitsettings?

Die onderwerp van hierdie artikel handel oor ‘n saak wat grondeienaars en persone anders as grondeienaars, wat regtens in beheer van grond is, baie deeglik van kennis moet dra.

Uitsettings is ‘n baie gevaarlike stap om te neem en soos hieronder verduidelik sal word, is daar ‘n baie groot verskil tussen die gewone man op straat se begrip van wat ‘n uitsetting behels, en wat die reg omskryf en beskou as ‘n uitsetting.

Beide die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997 (“ESTA”) en die Wet op Voorkoming van Onregmatige Uitsetting en Onregmatige Okkupasie van Grond, Wet 19 van 1998 (“PIE”), wat hoofsaaklik residensiële uitsettings reguleer in Suid-Afrika, maak ‘n uitsetting, wat in stryd met die twee wette gedoen word, ‘n strafbare oortreding en word so ‘n uitsetting as ‘n onwettige uitsetting beskou.

Die kriminele aard van so ’n misdryf en die erns waarmee die howe daarmee sal handel is af te lei uit die feit dat beide die ESTA en PIE ‘n onwettige uitsetting strafbaar maak met ‘n boete of gevangenisstraf tot ‘n maksimum van 2 (twee) jaar of beide so ‘n boete en gevangenisstraf.

Dit erns van die wetgewer met onwettige uitsettings het sy oorsprong in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996 (“die Grondwet”), wat in Artikel 26(3) onderliggend tot die ESTA-wet en PIE-wet, uitsettings, sonder ‘n hofbevel en sonder dat ‘n Hof alle relevante omstandighede in ag geneem het, uitdruklik verbied.

Die Grondwet omskryf ’n uitsetting as:

  • die fisiese uitsetting van ‘n person uit sy of haar huis of;
  • die vernietiging van ‘n persoon se huis.

Die ESTA-wet en PIE-wet maak egter die definisie van wat regtens as ‘n uitsetting beskou word meer omvangryk as dit wat die Grondwet as ‘n uitsetting beskou.

In die ESTA-wet word ‘n uitsetting beskryf as:

  • die ontneming van ‘n persoon, teen sy of haar wil, van hulle verblyfregte op grond; of
  • die ontneming van gebruiksregte van grond; of
  • die ontneming van toegang tot water wat gekoppel is aan verblyfregte kragtens die ESTA-wet.

Die omskrywing van uitsetting tref gevolglik nie alleen die ontneming van verblyfreg nie, maar ook gebruiksregte van grond en toegang tot water. ESTA self vervat ‘n omskrywing van die inhoud van bepaalde verblyfregte maar omskep voorts dit wat ‘n plaaswerker toegelaat word om te doen, soos die aanhou van beeste, ‘n reg.

‘n Onwettige uitsetting ingevolge ESTA sal gevolglik enige stappe insluit wat daarop gerig is om ‘n persoon teen sy/haar wil te ontneem van die regte hierbo genoem, sonder dat ‘n hofbevel ooreenkomstig die voorgeskrewe prosedure vir wettige uitsetting van ESTA verkry is.

‘n Grondeienaar of persoon wat regtens in beheer van landbougrond is, sal op die keersy hom/haar blootstel aan kriminele vervolging indien hy/sy hom/haar skuldig maak aan ‘n onwettige uitsetting.

Die PIE-wet, wat op onregmatige okkupeerders van toepassing is, neem die definisie van uitsetting ‘n stappie verder en verleen selfs beskerming teen uitsetting aan persone wat in tydelike strukture woon en wat in die algemene omgangstaal as plakkers bekend staan.

Kragtens PIE is ‘n uitsetting die onvrywillige ontneming van ‘n persoon van die bewoning van ‘n gebou of struktuur of die grond waarop die struktuur opgerig is. Die wet definieer ‘n gebou of struktuur as insluitend te wees van enige hut, sink struktuur, tent of soortgelyke struktuur of enige ander vorm van tydelike of permanente woonstruktuur of beskutting.

Net soos in die geval van ESTA sal ‘n uitsetting binne die bogenoemde definisie en sonder ‘n hofbevel die eienaar of persoon anders as die eienaar en wat regtens in beheer van grond is, blootstel aan kriminele vervolging en soos reeds vermeld, die vooruitsigte van ‘n boete en/of gevangenisstraf.

Die landboubedryf word baie kere met of sonder reg beskuldig van die miskenning van verblyfregte en onwettige uitsettings en is dit belangrik om hierdie beskuldiging binne die bogenoemde wet omskrywing te verstaan.

Waar onwettige uitsettings, wel plaasvind, is dit meermale toe te skryf aan grondeienaars wat enersyds onkundig is met betrekking tot die bogemelde wetgewing en andersyds toe te skryf kan word aan grondeienaars wat uit moedeloosheid met die duur en omvang van die kostes van wettige uitsettingsverrigtinge, die spreekwoordelike kortpaaie probeer neem of staatmaak op alternatiewe metodes om okkuppeerders, teen hulle wil, te laat afsien van hulle verblyfreg op ’n bepaalde stuk grond.

Vir die laasgenoemde geval waarom onwettige uitsettings wel plaasvind, mag daar geredeneer word dat die doel vir die een of ander duistere rede die betrokke middele regverdig. Dit is egter nie alleenlik in belang van die individuele grondeienaar nie, maar ook vir die beeld van landboubedryf in sy geheel, dat regte en in besonder uitsettings binne die voorskrifte van die betrokke wetgewing uitgeoefen word.

Daar is regtens genoeg ruimte in die bogenoemde wetgewing vir grondeienaars om hulle regte af te dwing en in die samehang is die wetlike voorgeskrewe prosesse te verkies bo die verleentheid van ’n kriminele vervolging en ’n openbare verleentheid vir ’n bedryf wat tans meer as ooit ’n positiewe beeld moet uitdra na die res van Suid-Afrika.



RETURN