EDITORIALS

Resitusie-eise en my reg om te verkoop en verbeterings op my grond aan te bring

Die Wet op Herstel van Grondregte, Wet 22 van 1994, (“Restitusiewet”)wat as die vlagskip wetgewing van die regering se Grondhervormingsprogram beskou word, het bepaalde ingrypende gevolge vir bestaande grondeienaars waar eiendom deur eise geraak word.

Die oopstel en verlenging van die tydperk om eise in te dien tot en met 30 Junie 2019, het sonder twyfel die Suid-Afrikaanse landboubedryf vir ’n verdere en beduidende tyd in groot onsekerheid gedompel. Dit is veilig om te voorspel dat die eise en prosesse om dit te hanteer, die wysheid van Salomo gaan verg, gegewe die feit dat die eise met die vorige rondte steeds nie afgehandel is nie en daar alreeds weer ’n omvangryke getal eise, sedert die aanpassing van die sperdatum vir indiening van eise, in 2014, ingedien is.

Intussen moet grondeienaars aangaan met hulle boerderye en in hierdie onsekerheid 'n bestaan maak. Dit is in hierdie omstandighede nodig om te verstaan, watter moontlike beperkings bogemelde eise inhou vir die beplanning en bedryf van ’n bestaande boerdery, waarvan die grond deur eise geraak word.

Dit is eerstens belangrik om te verstaan dat die hantering van ’n eis in fases plaasvind en dat die inperkende gevolge van die wet op grondeienaars van grond wat geëis word, nie in werking tree met die instel van ’n eis teen die grond nie, maar eers wanneer die Kommissie vir die Herstel van Grondregte (’n onderafdeling van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en hiermee genoem die “Grondeisekommissie”) kennis van die eise gegee het in die Staatskoerant en die bestaan van die eis in die distrik waar die grond wat geëis word geleë is, rigbaar gemaak is.

Sodra kennis gegee is van die eis, tree die volgende inperkende gevolge in:

  1. Geen persoon mag op ’n onbehoorlike wyse inmeng in die verloop van die proses van die eis nie.
  2. Geen persoon mag, sonder om die Grondeisekommissie met een maand se geskrewe kennis, grond wat geëis is, verkoop, verruil, geskenk, onderverdeel, hersoneer of ontwikkel nie. (Waar daar nie kennis van so transaksie of die ontwikkeling van grond gegee is aan die Grondeisekommissie nie en die transaksie nie in goeder trou plaasgevind het nie, kan die Hof die transaksie tersyde stel of enige gepaste bevel in die Hof se diskresie maak.)
  3. Geen Eiser van die grond en wat op 2 Desember 1994 op die grond woonagtig was mag vanaf die grond wat geëis is uitgesit word nie.
  4. Geen persoon sal sonder geskrewe toestemming van die Grondeisekommissie, op enige wyse, van watter aard ook al, verbeterings op die grond vernietig of verwyder en/of laat vernietig of laat verwyder nie.
  5. Geen Eiser of ’n ander persoon mag die grond betree of dit okkupeer sonder toestemming van die Eienaar of ’n wettige okkupeerder van die grond nie.

Uit hoofde van die bogenoemde bepalings, kan met veiligheid die afleiding gemaak word, dat grondeise nie ingevolge die bogenoemde wet, nie noodwendig ’n boerdery of aktiwiteite op grond tot stilstand hoef te dwing nie. Dit verg agter ’n bewustheid van die betrokke wetsbepalings en ’n gewilligheid om die administratiewe verpligtinge wat die wet voorskryf na te kom.

Bogenoemde weerspieël egter slegs die regsposisie en het nie betrekking op die markkragte wat in hierdie omgewing ook beperkende gevolge vir grondeienaars, wat deur eise geraak word, mag hê nie.

Daar is tans groot druk om die maatstaf van markverwante vergoeding, wat tot op hede deur die staat vir grond wat geëis is, betaal is, af te skaf en met ’n ander maatstaf te vervang, maar is daar tot op hede nie klinkklare wetgewing, wat ’n werkbare alternatief sal bied, ingestel nie.

Die bogenoemde statutêre beperkings op grondeienaarskap gekoppel met die moontlikheid van bogenoemde onsekere posisie rondom vergoeding vir grond wat geëis is, mag wel in die toekoms, en indien die staat tot sulke drastiese stappe oorgaan, ’n ernstige gevolge inhou vir:

  1. Besluite oor toekomstige kapitale investering en verbeterings op grond.
  2. Die aankoop van grond wat geëis is in die ope mark.
  3. Die verkryging van enige finansiering, waar grond as sekuriteit moet dien vir finansieringsinstellings.

So ’n klimaat kan ook tot gevolg hê dat grondeienaars waarvan grond wat geëis word, in die moeilike posisie beland, waar die staat die enigste moontlike koper van die grond word. Grondeienaars sal in besonder in ’n moeilike posisie geplaas word om oor grondpryse te onderhandel, wanneer die dag aanbreek wanneer ’n besluit geneem moet oor die skikking van ’n eis en die verkoop van grond aan die staat.

Tot daar daadwerklike nadelige ingryping van die staat op grondwaardes is, is grondeise ’n werklikheid wat pro-aktief kan en moet bestuur word om die oorlewing van die landboubedryf te verseker.

Oor die afgelope aantal jare en sedert die inwerkingtrede van die Restitusiewet is praktyke gevestig rondom die hantering van eise deur die staat en is dit uiters raadsaam om behoorlike advies in te win, met betrekking tot enige van die aspekte wat hierbo hanteer is, ten einde te alle tye die regte en ingeligte besluite te neem.



RETURN