EDITORIALS

Wie is geregtig om ‘n restitusie-eis in te stel?

Die Wet op Herstel van Grondregte, Wet 22 van 1944 (“Die Restitusie Wet”) se afsnydatum vir die indien van eise is sedert 2014 verleng en word eise sedertdien teen ‘n baie hoë indieningsyfer ontvang.

Die omvang van die moontlike gronde vir die indiening van eise is baie groot, omdat rasgegronde wetgewing en praktyke in die voor-1994 bedeling of die apartheidsera op soveel verskillende vlakke en in soveel verskillende omstandighede in werking was of plaasgevind het.

Die Restitusiewet en die wyse waarop dit toegepas word, is letterlik soos ‘n vergrootglas waardeur daar na die verlede gekyk word en bepaal word of ‘n bepaalde wet of praktyk daartoe aanleiding gegee het dat mense van alle rasse benadeel is in die opsig dat hulle onbillik ontneem is van regte in grond.

Die Wet op Herstel van Grondregte omskryf die reg om ‘n eis in te stel in eenvoudiger taal as volg:

  1. Dit is persone of bestorwe boedels wat na 19 Junie 1913 as gevolg van historiese rasgegronde diskriminerende wetgewing of praktyke ontneem is van ‘n reg in grond. Dit sluit nie alleen titeleienaarskap van grond in nie, maar ook ander en selfs ongeregistreerde gebruiksregte in.
  2. Eisers kan ook ‘n direkte afstammeling wees van ‘n persoon wat ingevolge die vereistes in 1 hierbo geëis het, indien die persoon wat geëis het of geregtig was om te eis, oorlede is.
  3. Gemeenskappe of gedeeltes van gemeenskappe kan op die gronde soos in 1 hierbo eis.
  4. Die eis moet voor die afsnydatum vir indien van eise in 2019 ingedien word.

Die reg om te eis word egter ingeperk in die opsig dat persone nie geregtig is op herstel of vergoeding vir die verlies van ‘n reg in grond indien daar met die ontneming van die reg, regverdige geldelike vergoeding of enige ander vergoeding betaal was nie.

Die berekening van historiese vergoeding wat, ten tye van ontneming ontvang is, is geskoei om die markwaarde van die grond in die tyd van die ontneming en enige verskil tussen sodanige markwaarde en die bedrag vergoeding wat wel ontvang is. Daardie verskil word deur die toepassing van die Verbruikersprysindeks (VPI) aangepas na hedendaagse waardes.

Die bogemelde berekeningswyse is ’n baie belangrike faktor wat die Kommissie vir die Herstel van Grondregte moet oorweeg, wanneer daar ’n keuse uitge-oefen moet word tussen die vergoeding van ’n eis deur die teruggawe van die geëiste grond of die betaling van kontantvergoeding aan die eiser/s vir die bogemelde verlies. Die rede hiervoor is dar eisers nie onregverdig verryk mag word deur vergoeding, wat ontvang word vir die herstel van hul regte nie.

Ten einde die bogenoemde vraag, oor wei mag eis, te beantwoord is dit ook belangrik om kennis te dra, van die verskeie uiteenlopende voorbeelde in regspraak waar die hof moes beslis watter historiese praktyke of wetgewing geklassifiseer moes word as diskriminerend op grond van ras en ’n potensiële eiser daarop geregtig sou maak om te eis. Die howe het ondermeer die volgende gevalle gekwalifiseer as gronde vir ’n restitusie-eis:

  1. Die ooglopende voorbeelde is wetgewing wat eksplisiet daarop gerig was om rasse geografies te hervestig tussen blanke en swart woongebiede asook die voormalige tuislande. Dit sluit wetgewing soos die Groepsgebiedewet en die sogenaamde “1913 Land Act” in.
  2. Staatsoptrede waar ontneming nie heeltemal direk gevolg gegee het aan ‘n bepaalde wet nie, maar die oogmerk van die wetgewing van die tyd bevorder het soos die gedwonge verkoop van ‘n skool om ‘n skool vir kleurling kinders in ‘n groepsgebied te bou of waar plase aangekoop is vir die sogenaamde konsolidasie met die voormalige swart tuislande.
  3. Gevalle waar persone nie fisies van regte ontneem is nie, maar deur wetgewing verhoed was om titeleienaarskap van grond te verkry.
  4. Eisers, soos in die geval van die Richtersveld gemeenskap, wat selfs voor 1913, met die ontdekking van diamante in die Richtersveld geleidelik van toegang tot grond ontneem is, is op grond van die internasionaal erkende doktrine van “aboriginal rights” die reg verleen om grond te eis.
  5. Die afskaffing van die huurarbeiderstelsel (waar werkers met weiding en aanplantingsregte op plase vergoed is) en die vervanging daarvan met kontantvergoeding is as ’n rasgebaseerde praktyke van die verlede beskou waarop herstel van grondregte geëis kan word.

Die bogemelde voorbeelde moet egter nie as allesomvattend beskou word nie, maar word hierin vermeld om te illustreer hoe wyd uiteenlopend die onderliggende gronde vir ’n eis kan wees.

Met kennis van bogenoemde, is dit belangrik dat grondeienaars proaktiewe stappe kan en behoort te neem om deeglik bewus te wees van die historiese bewoning en gebruiksregte van mense in hulle omgewing en daarmee saam, sovêr moontlik, gegewens rondom die historiese eienaarskap / bewoning of gebruike van hulle eie grond bymekaar te maak en te bewaar vir die toekoms, wanneer daar dalk ‘n grondeis teen die betrokke grond gepubliseer mag word.



RETURN