EDITORIALS

Die regstatus van ontslane werkers wat nie hul werkershuis ontruim nie, maar elders woon

Daar is in ‘n verskeidenheid van ons vorige artikels, verwys na die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997, (“ESTA-wet”) welke wet hoofsaaklik die regsposisie en verhouding tussen grondeienaars en plaasbewoners reguleer.

Daar ontstaan egter van tyd omstandighede rondom verblyf op plase waar die regsposisie rondom bepaalde omstandighede nie deur die blote deurlees van die betrokke wet opgelos kan word nie.

Daar het die afgelope aantal jare en met die verstedeliking van duisende mense, uit die platteland ‘n probleem op plase ontstaan, waar werknemers op plase, wat uit hoofde van hul diensooreenkoms toestemming gekry het om op ‘n plaas te woon of ‘n werkershuis te betrek, uit diens ontslaan sou word of vrywillig sou bedank, maar op die plaas sou aanbly deur te weier om die huis te ontruim.

In hierdie gevalle sal die werker, hipoteties gestel, ‘n diensbetrekking elders aanvaar en dan nader aan die nuwe betrekking ‘n woonplek kry, maar dan van sy/haar persoonlike besittings in sy/haar voormalige werkershuis agterlaat om daardeur ‘n teenwoordigheid op sy/haar voormalige werkgewer se eiendom te probeer handhaaf./p>

Hierdie toedrag van sake van sake, het vir menige grondeienaar kopsere besorg omdat dit, eerstens die eienaar van die voortgesette gebruik van die werkershuis ontneem en heel dikwels, met verwysing na die algemene probleem rondom werkloosheid in Suid-Afrika, dit baie moeilik maak vir die werkgewer om sonder die beskikbare behuising op die grond nuwe werknemers in diens te neem.

Die bogemelde omstandighede is egter in ‘n uitspraak van die Grondeisehof van Suid-Afrika en die Hoogste hof van Appèl in Bloemfontein, oorweeg en daar is met verwysing na die ESTA-wet insiggewende uitklaring in die verband gegee.

Die howe het gevolg gegee aan die definisie van ‘n “okkupeerder” in die ESTA-wet, wat kortliks, eenvoudig en verstaanbaar daarom neerkom dat iemand kwalifiseer vir beskerming as ‘n okkupeerder ingevolge die ESTA-wet, indien hy/sy met toestemming van die eienaar of persoon of beheer van die grond of ander op die grondslag van ‘n ander regsgeldige reg op die plaas woon.

Die woordjie “woon” en die Engelse vertaling daarvan as “reside” het die sleutel geword vir die oplossing, bogemelde uitdaging.

Die bogemelde Howe het, met verwysing na baie ouer hofbeslissings van die Suid-Afrikaanse howe, ondersoek ingestel, na die regsbetekenis van die woorde “woon” of “reside”

Na aanleiding van die hof se ondersoek, en met verwysing na die voormelde vorige hofbeslissings kom die gevolgtrekking dat “woon” of “reside” beteken dat daar ‘n mate van permanensie moet wees ten opsigte van die plek waar iemand woon. Dit is die plek waar ‘n mens woonagtig is en die plek is wat ‘n mens byvoorbeeld daagliks verlaat om werk toe te gaan en waarheen ‘n mens terugkeer na ‘n dag se werk. Die howe het ook beslis dat dit nie iemand se naweekhuisie is waarheen daar sporadies of anders gestel van tyd tot tyd teruggekeer word nie.

Uit hoofde van die hof se bogemelde uitleg van die van die woordjie “woon” of “reside” binne die konteks van die bogemelde beskrywing van ‘n “okkupeerder” in die ESTA-wet, kom die hof tot die gevolgtrekking dat persoon nie ‘n okkupeerder is as hy/sy nie op die plaas woonagtig is binne die bogenoemde omskrywing van “woon” of “reside” nie.

Ten opsigte van die probleem met waarmee grondeienaars te kampe het, en soos hierbo beskryf, beteken die hofuitsprake dat ‘n voormalige okkupeerder of plaasbewoner nie sy/of haar verblyfreg en beskerming kragtens die ESTA-wet, behou indien hy/sy elders gaan woon terwyl hy/sy. sy/haar goedere agterlaat op sy sy/haar werkgewer se grond nie.

In praktyk beteken dit dat die grondeienaar, in sulke omstandighede , en ten einde besit van die werkershuis te herwin, nie nodig sou hê om die omvangryke, omslagtige en duur proses, soos voorgeskryf deur die ESTA-wet te volg, waar ‘n voormalige werker, wat elders woon maar weier om sy of haar goedere uit die werkershuis te verwyder nie.

Dit is egter belangrik om te besef dat die bogemelde toedrag van sake nie van toepassing sou wees in die voormalige werknemer tesame met sy/haar besittings, na diensbeëindiging, vir watter rede ook al sou aanbly op die grond nie.

Dit word, soos voorheen in hierdie reeks van artikels aanbeveel is, ten sterkste aanbeveel om te alle tye na behore regsadvies in te win en onder geen omstandighede, sonder die tussenkoms van ‘n toepaslike geregshof reg in eie hande te neem nie. Die betrokke wetgewing is daar om vir beide Grondeienaars en plaasbewoners ‘n omgewing te skep, om geskille vreedsaam of deur die howe as die enigste alternatief op te los.



RETURN