EDITORIALS

Watter regte het plaasbewoners?

Die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 VAN 1997 (“ESTA”) word onderlê deur die veronderstelling dat plaasbewoners, in besonder, blootgestel was aan vergrype en onwettige uitsettings van grondeienaars voor die inwerkingtrede van ESTA.

Die regte van Plaasbewoners, wat in ESTA vervat word, is gevolglik ‘n reaksie om die vergrype wat daar voor die inwerkingtrede van ESTA met siviele remedies en die dreigement van strafregtelike vervolging van oortreders hok te slaan.

Kragtens ESTA, kan die regte van okkupeerder in drie kategorie ingedeel word naamlik:

  1. Fundamentele regte
  2. Omskrewe regte
  3. Regte wat voortspruit uit ‘n ooreenkoms met die eienaar

Hierdie regte word kortliks ter inligting bespreek:


Fundamentele regte

Hierdie regte word ook aan elke burger van Suid-Afrika in die Grondwet van Suid-Afrika gewaarborg en is in besonder van belang by die uitleg van die gees waarin ESTA geskryf en uitgelê behoort te word. Kragtens ESTA word die regte van grondeienaars ook eksplisiet ondervang deur fundamentele regte. Dit Fundamentele regte sluit die volgende in:

  1. Menswaardigheid
  2. Vryheid en sekuriteit van die persoon
  3. Privaatheid
  4. Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening van uitdrukking
  5. Vryheid van assosiasie
  6. Vryheid van beweging

Hierdie regte is ook baie belangrik vir doeleindes van die inhoud maatstawwe van die verhouding, wat daar kragtens ESTA tussen grondeienaars en plaasbewoners behoort te bestaan.


Omskrewe regte

Hierdie regte, word onderlê deur ‘n algemene reg van ‘n okkupeerder om die grond, wat bewoon word, te gebruik. In Artikel 6(2) van ESTA word hierdie regte in opweging met die regte van die eienaar en/of persoon in beheer van die grond as volg omskryf:

‘n Okkupeerder het die reg:

  1. tot sekerheid van verblyf
  2. om bona fide besoekers op redelike tye en vir redelike tydperke te ontvang
  3. om pos of ander kommunikasie te ontvang
  4. tot ‘n gesinslewe in ooreenstemming met die kultuur van die okkupeerder se familie
  5. om ‘n afgestorwe lid van sy / haar familie te begrawe
  6. om nie toegang tot water geweier of ontneem te word nie
  7. om gesondheidsdienste geweier of ontneem te word nie.

Sommige van hierdie regte is gekwalifiseerde regte en word verder omskryf en gekwalifiseer in ESTA. Daar bestaan ook regspraak van die howe, waarin uitleg gegee is aan hierdie regte, wat elkeen van hierdie regte as ‘n afsonderlike besprekingspunt sou regverdig. Vir doeleindes van hierdie artikel is dit egter belangrik om hierdie regte en die uitwerking daarvan op die verhouding met plaaswerkers te identifiseer, maar nog meer om te besef dat ’n onbillike inbreukmaking daarop mag neerkom op ’n onwettige uitsetting met strafregtelike gevolge of ’n hofaansoek teen die grondeienaar waarin regshulp verlang word teen die grondeienaar vir ’n verklaring van regte of om ’n bepaalde inbreukmaking op hierdie regte te staak.


Regte wat voortspruit uit ‘n ooreenkoms met die eienaar

Hierdie is die laaste kategorie regte, waarvan kennis geneem behoort te word, en dit het betrekking op toegang tot dienste wat met die eienaar of persoon in beheer ooreengekom is.

Hierdie regte is nie eksplisiet in ESTA omskryf nie, maar omskep die verskaffing van enige diens om ‘n okkupeerder, soos byvoorbeeld elektrisiteit aan ‘n woonhuis, as ‘n reg wat kragtens ESTA afgedwing kan word en wat nie strydig met die ooreenkoms eensydig ontneem kan word nie.

’n Ooreenkoms is egter onderliggend tot hierdie reg en is dit van wesenlike belang dat sodanige ooreenkoms duidelik die regte en verpligtinge van die partye omskryf, maar ook die voorwaardes vervat waarkragtens die bepaalde dienste gelewer word.

Die reg tot toegang tot elektrisiteit is byvoorbeeld ‘n reg wat normaalweg onderhewig is aan die betaling daarvan. Dit kan ook, byvoorbeeld, onderhewig gemaak word aan die termyn of bestaan van ‘n diensooreenkoms met die plaasbewoner. Dit sal verhoed dat hierdie verpligting vir die eienaar voortbestaan om die diens te lewer, indien daar nie vergoeding daarvoor ontvang word nie of waar ‘n persoon ontslaan of bedank, maar in die woning aanbly waar hy of sy ten tye van sy / haar dienstydperk woonagtig was.

Die regte van plaasbewoners, soos in die ESTA-wet vervat is omvangryk. Die uitwerking daarvan verg ’n baie deursigtige en versigtige benadering. Die benadering rus op twee bene naamlik ’n die gees van die verhouding tussen die grondeienaar en die plaasbewoner en daarmee saam ’n stelsel van omskrewe regte en op die keersy verpligtinge.

Binne die bogenoemde raamwerk, moet grondeienaars en plaasbewoners, mekaar vind om desondanks hul dikwels kompeterende belange, op dieselfde stuk landbougrond in vrede en volhoubaar met mekaar te probeer saamleef.



RETURN