EDITORIALS
Begrafnisse op plase en die regte van grondeienaars en plaasbewoners
Baie grondeienaars kry van tyd tot tyd ‘n versoek van hulle werkers of plaasbewoners vir toestemming om ‘n afgestorwe familielid op die plaas te begrawe. Die vraag wat dan ontstaan is, wanneer toestemming geweier mag word en wanneer toestemming toegestaan kan of moet word.
Die antwoorde op hierdie vrae is nie heeltemal so eenvoudig nie en gaan ons in hierdie artikel, kortliks, poog hierdie aktuele vraagstuk te beantwoord.
Kragtens die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996 (“die Grondwet”) het die republiek van Suid-Afrika drie vlakke van regering naamlik nasionale regering, die provinsiale wetgewers en die plaaslike owerhede. Anders as in die vorige grondwetlike bedeling is hierdie vlakke van regering nie ondergeskik aan mekaar nie, maar tree onafhanklik en interafhanklik op.
Die inherente wetgewende bevoegdhede van hierdie vlakke van regering word vervat in bylae 4 en 5 van die Grondwet. Hierdie bevoegdhede oorskry mekaar in sekere opsigte, maar in ander opsigte is daar bevoegdhede, wat eksklusief aan ‘n bepaalde vlak van regering toegestaan word.
Begraafplase, begrafnisondernemers en krematoriums en die bedryf daarvan, val uitsluitlik binne die jurisdiksie van die provinsiale en plaaslike owerhede en kragtens Artikel 41 van die Grondwet kan die nasionale regering nie inbreek maak op hierdie bevoegdhede nie of selfs op nasionale vlak wetgewing uitvaardig, wat in stryd is met wetgewing wat onder die ander owerheidsvlakke se uitsluitlike wetgewende bevoegdheid in die Grondwet val nie.
Vervolgens kan die bogenoemde vrae eerstens beantwoord word deur ondersoek in te stel of daar plaaslike of provinsiale wetgewing, vir die area, waar die plaas of grond geleë is, bestaan, wat begraafplase, begrafnisondernemers en krematoriums reguleer nie en dan dit na te gaan. Daar is byvoorbeeld ‘n munisipale verordening van die Tswane Metro wat enige begrafnisse of grafte, wat sedert die inwerkingtrede van die verordening, in die Metro se jurisdiksie gebied, verbied wat buite die grense van ‘n goedgekeurde begraafplaas sou plaasvind of geskep word.
Tweedens verleen die Wet of Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997 (“ESTA”) in Artikel 6(2)(dA) van gemelde wet, ’n bepaalde reg aan plaasbewoners of “okkupeerders” soos omskryf in ESTA om afgestorwe famille- lede op die grond waar die okkupeerder woon te begrawe. Die artikel lees as volg:
’n Okkupeerder (plaasbewoner wat die eienaar se toestemming het tot verblyf) het die reg:
“om ‘n afgestorwe lid van sy of haar familie, wat ten tyde van so ‘n persoon se afsterwe woonagtig was op die grond waarop die okkupeerder woonagtig is, in ooreenstemming met hulle godsdiens of kulturele oortuiging te begrawe, indien ‘n gevestigde praktyk met betrekking tot die grond bestaan.”
Gevolglik en sonder om afbreek te doen aan die voorskrifte van enige plaaslike of provinsiale wetgewing, soos hierbo bespreek, het ‘n okkupeerder ‘n gekwalifiseerde reg om wel iemand te begrawe op die plaas of grond waarop hy of sy woon. Hierdie kwalifikasies of vereistes kan as volg opgesom en verduidelik word:
- Die persoon wat toestemming vra om te begrawe, moet ‘n okkupeerder wees soos omskryf in die ESTA-wet;
- Die oorledene moes voor sy of haar afsterwe op die plaas woonagtig gewees het. (“Woonagtig” word regtens gesien as verblyf van ‘n permanente aard);
- Daar moet ‘n gevestigde praktyk op die plaas bestaan het, waar plaasbewoners of okkupeerders in die verlede toestemming verkry het om afgestorwe familielede op die plaas te begrawe.
Bykomend to die bogenoemde, meer algemene bepaling, vervat die ESTA-wet ook die volgende bepalings met betrekking tot grafte en begrafnisse op plase:
- 'n Persoon het die reg om sy of haar familiegrafte op grond wat aan 'n ander persoon behoort, te besoek en in stand te hou, onderhewig aan enige redelike voorwaarde opgelê deur die eienaar of persoon in beheer van sodanige grond ten einde lewe of eiendom te beskerm of om die onbehoorlike ontwrigting van werksaamhede op die grond te voorkom.
- Die familielede van 'n okkupeerder beoog in artikel 8 (4) van hierdie Wet het met sy of haar afsterwe 'n reg om daardie okkupeerder te begrawe op die grond waarop hy of sy woonagtig was ten tyde van sy of haar afsterwe, in ooreenstemming met hulle godsdiens of kulturele oortuiging, behoudens enige redelike voorwaardes wat nie meer beswarend is as dié voorgeskryf nie en wat deur die eienaar of persoon in beheer opgelê word. (’n Okkupeerder soos beoog in artikel 8(4) is ’n spesiale kategorie plaasbewoner of okkupeerder, wat buiten toestemming om op die plaas of grond te woon, langer as 10 jaar op die grond woon en die ouderdom van 60(sestig) jaar bereik het of as gevolg van siekte of ongeskiktheid nie in staat is om op die plaas of grond te werk nie.
Waar toestemming vir ’n begrafnis verlang word is die volgende belangrik:
- Bekom regsadvies in die geval van enige onsekerheid met verwysing na die bogenoemde. ‘n Onbillike weiering het heel dikwels tot gevolg het dat die Grondeisehof op ‘n dringende grondslag genader word vir ‘n bevel met kostes teen die eienaar, ingevolge waarvan die eienaar gelas word om toestemming te verleen.
- Vereis dat enige versoeke om toestemming om op ’n plaas te begrawe, deur die persoon wat die versoek rig, op skrif gestel word vir oorweging.
RETURN