EDITORIALS
Die aanspreeklikheid van sorgdraers van vee langs paaie
Die Grondeisehof het op 5 November 2015 ‘n baie belangrike uitspraak gelewer rondom die kwessie van die aanhou van beeste deur plaasbewoners.
In die saak van Normandien Farms (Edms) Bpk v MNJ Mathimbane en andere moes die Waarnemende Regterspresident van die Grondeisehof beslis oor ’n ingewikkelde hofaansoek van ’n Grondeienaar in die Newcastle omgewing. In die hofaansoek was die Grondeisehof versoek om te gelas dat die plaasbewoners, woonagtig op die grondeienaar se plaas, hul lewende hawe wat hulle op die plaas aangehou het, moes verwyder, by gebreke waarvan, die beeste kragtens die hofbevel deur die balju verwyder sou word.
In ‘n teenreaksie op die eienaar se aansoek het die plaasbewoners ‘n teen aansoek in dieselfde Hof geloods om as huurarbeiders verklaar te word in terme van die Wet op Grondhervorming, Wet 3 van 1996. Daarmee saam is die Hof gevra dat die gedeelte van die plaas waar die plaasbewoners woonagtig is en deur hulle gebruik is vir weiding van hulle lewende hawe, as ‘n grondeis onderverdeel word van die res van die plaas en teen regverdige en billike vergoeding aan die eienaar, aan hulle in titel toegeken word. Die teenaansoek was daarop gerig om die bogenoemde bevel vry te spring.
Die eienaar se aansoek vir die verwydering van die lewende hawe was gegrond op deskundige verslae wat deur weidings- en omgewingsdeskundiges gelewer is. Die verslae het aangetoon dat die veld waarop die plaasbewoners se beeste loop, in ’n baie ernstige graad ernstig oorbewei en beskadig is. In ‘n verslag van die Kwa-Zulu Natalse Provinsiale Departement van Landbou en Omgewingsake word verder aangevoer dat die ter saaklike veld tot soveel as 73% bo die bestaande dra kapasiteit bewei was. Die teenkant, in die saak, het ook deskundige verslae gelewer.
In wese het beide partye se deskundiges op die ou einde ooreengekom dat oorbeweiding die skade aan die weiding veroorsaak het en dat die veld by wyse van ‘n rehabilitasieproses van vyf jaar gerehabiliteer moet word. Dit het drastiese implikasie ingehou dat alle lewende hawe van die plaas en die oorbeweide gedeeltes verwyder sou moes word vir die rehabilitasie tydperk.
Bykomend tot die aanbevelings van die deskundiges rondom die probleem van oorbeweiding, het die Grondeisehof die oorbeweiding van die veld oorweeg aan die hand van die bepalings van die Wet op Bewaring van Landbouhulpbronne, Wet 43 van 1983, ook meer algemeen bekend as die “CARA-Wet”.
Die Hof het spesifiek verwys na die oogmerke van die CARA-Wet en Regulasie 9 wat onder dieselfde Wet uitgevaardig is, wat baie uitdruklike bepalings vervat wat verpligtinge op gondgebruikers plaas om weiding te bestuur, weidingsgrond te bewaar en waar beskadiging plaasvind, die veld te rehabiliteer. Die Hof het ook verwys ook na Artikel 6(5) van die CARA-Wet wat dit ‘n misdryf maak vir grondgebruikers om te versuim om die bogemelde verpligtinge na te kom.
Die hof het ook op ’n insiggewend wyse die kwessie van oorbeweiding binne die kader van Artikel 6(3)(b) van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997 (“ESTA”) gebring. Die bepaling in die ESTA-wet wat verbly op plase reguleer stel dit duidelik dat ‘n plaasbewoner of okkupeerder nie opsetlik en onwettig wesenlike skade aan die eiendom van die eienaar of persoon in beheer van die grond, mag aanrig nie.
Na oorweging van die toepaslike wetsbepalings kom die Grondeisehof tot die volgende belangrike bevindings:
- Dat die Grondeienaar, ten spyte van die feit dat die CARA-Wet deur die Provinsiale Departement van Landbou afgedwing moet word, ook die reg het om ingevolge die CARA-Wet regshulp, soos in hierdie saak, te vra;
- Dat CARA deel is van die wetgewing wat gevolg gee aan die reg op ‘n gesonde omgewing in Artikel 24 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996. Die gevolg hiervan is dat die CARA-Wet inderdaad ‘n spesiale status het omdat dit landbouhulpbronne beskerm;
- Dat die plaasbewoners ook ’n plig het om die CARA-wet na te kom indien hulle beeste op plase aanhou en dat weidingsbestuur nie alleen op die skouers van die eienaar geplaas kan word nie.
Die het in die finale bevel die Applikante / Grondeienaar gelyk gegee en die bevel vir die verwydering van die beeste, vir die duur van die rehabilitasie, verleen.
Hierdie uitspraak is van groot belang vir grondeienaars wat lewende hawe aanhou en ander toelaat om lewende hawe op hulle grond aan te hou. Dit bevestig enersyds dat die bewaring van die landbouhulpbronne ooreenkomstig die CARA-wet inderdaad deel is van die omgewingswetgewing wat daarop gerig is om die volhoubaarheid van ons land se hulpbronne ingevolge die Grondwet, te verseker, maar wat nog meer belangrik is, is die feit dat selfs die begunstigdes van Grondhervorming en hul doen en late op grond, ook onderhewig is aan die nakoming van hierdie wetgewing.
Dit beteken te slotte dat enige ooreenkoms of toestemming aan plaasbewoners om lewende hawe aan te hou onderhewig behoort te wees aan die voorskrifte van die CARA-wet en dat daar in die ideale omstandighede deeglike beplanning en kommunikasie tussen grondeienaars en plaasbewoners behoor te wees rondom die verantwoordelike gebruik van hulpbronne.
RETURN