EDITORIALS

Die dillema van grondhervorming

Sedert die middel van 2014 is die afsnydatum vir die indiening van eise ingevolgende die Wet op Herstel van Grondregte verleng tot en met 30 Junie 2019. Hierdie drastiese besluit is geneem nadat die vorige afsnydatum vir die indiening van eise 31 Desember 1998 was.

Die betrokke wet is daarop gerig om vir ‘n persoon of gemeenskap wat as gevolg van regsgebasseerde wetgewing en praktyke, regte in die grond verloor het, die reg te gee om te eis vir vergoeding in die volgende alternatiewe:

  • herstel van die eerstydse regte; of
  • kontantvergoeding vir verliese; of
  • alternatiewe grond.

Voor 31 Desember 1998 was daar ongeveer 70,000 eise ingedien en 17 jaar later is hierdie eise (waarvan die meeste landelik is) steeds nie afgehandel nie.

Die huidige stand van nuwe eise na die heroopstelling van die afsnydatum, beloop reeds meer as 100,000 eise. Daar is reeds vooruitskattings dat daar teen die huidige trant ongeveer 400,000 eise teen 2019 ingedien sal wees. Hierdie geskatte getal eise beloop bykans 6 keer meer as die hoeveelheid eise wat voor 31 Desember 1998 ingedien was.

Daar behoort uit historiese ervaring, geen twyfel te bestaan dat die restitusieproses in die aard en gevolge daarvan, enorme onsekerheid vir die landbou veroorsaak. En met die bogenoemde syfers gaan hierdie omstandighede waarskynlik vir die volle duur van ‘n volgende generasie bestaan.

Met die bogemelde proses in die agtergrond, is daar ook groot politieke druk in die landbou om ‘n persentasie van plase aan werkers beskikbaar te stel. Die ironie hiervan is dat die verwagtinge wat in beide programme geskep word, toepassing vind op dieselfde grond. Eenvoudig gestel kan daar met reg gevra word wie eerste gehelp gaan word en teen watter koste.

Daar is ook onlangs voorgestelde wysigings aan die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg op tafel geplaas, wat in effek wel daartoe sal bydra dat geskille met plaasbewoners makliker opgelos kan word, maar terselfdertyd sal dit ‘n bestaande lang proses om wettige uitsettings te verkry, nog meer verleng omdat verpligte mediasie en arbitrasie van geskille nou in die proses ingebou gaan word. Terwyl die motivering vir die wetswysigings daarop sinspeel dat net 1% van uitsettings van plase sedert 1994 in Suid-Afrika wettig plaasgevind, word die probleem aangespreek deur proses van die wettige uitsettings nog moeiliker te maak.

Die bogemelde verwikkelinge mag op die oog af soos die ysberg lyk wat die landbou gaan sink, maar dit is juis die bogemelde dilemma wat die Staat met beperkte insig in die landbou bedryf skep, wat landbouers moet noop om grondhervorming as ‘n bestuurbare risiko te sien en te begin hanteer. Grond en die landbou in Suid-Afrika was nog nooit in ’n gemaksone nie, maar beplanning en bestuur van die uitdagings, wat oor die bedryf se pad gekom het, het die bedryf staande gehou.

Die bogenoemde stand van sake sou in alle waarskynlikheid ‘n baie groter bedreiging gewees het indien die Staat binne die huidige grondwetlike bedeling oor onbeperkte fondse beskik het en die administrasie van Grondhervorming in Suid-Afrika na wense presteer het. Dit is tan nie die geval nie. Die Hoof Grondeisekommissaris beskryf die stand van die Grondeisekommissie as volg:

The absence of consistent and clearly defined operating procedures has resulted in variations in the processes and approaches to claim settlement across different provinces, as well as inconsistencies in the process over time. The development of the requisite institutional and managerial capacity within the Programme has been undermined by an extremely weak human resources function, de-linked from the CRLR. This has resulted in a rate of high turnover and redeployment of staff, poor systems of induction, and inadequate training and mentoring.


Many of these problems have been comprehensively identified in the past, but remain unresolved. This raises serious questions about the efficacy of the Programme’s management and the extent to which it is able to fulfill its constitutional mandate and to realise its developmental purpose. The key components of this assessment van be summarised in terms of problems relating to the Programme’s Function and to its Operation."

Teen hierdie agtergrond en uiters gunstige regspraak op al die terreine van grondhervorming is grondhervorming ‘n bestuurbare risiko. Die nadelige gevolge daarvan vir gevestigde belange in die bedryf, en met behoud van ons bestaande regstelsel, sal oor ‘n baie lang tydperk manifesteer. In hierdie tyd sal lesse geleer word en geleenthede na vore tree.

Dit is in die midde van hierdie politieke en praktiese dilemma waar die jare se ervaring van die bedryf en ‘n vermoë om planne te maak, die landboubedryf behoort deur te dra. Daar gaan in die toekoms aanpassings gemaak moet word, maar dit is ’n pragmatiese reaksie en vindingrykheid wat die verskil tussen sukses en ondergang gaan beteken.



RETURN