EDITORIALS
Besoek aan grafte op plase deur persone wat nie meer op die plaas woonagtig is nie
Dit gebeur toenemend dat grondeienaars, wat etlike jare lank in besit van grond is , skielik deur onbekende of persone wat beweer dat hulle voorheen op die grond woonagtig was, genader word om grafte van oorlede naasbestaandes te besoek. Dit skep bepaalde probleme, wat kortliks en uit ‘n regShoek, toegelig behoort te word.
Dit is eerstens belangrik om daarop te let dat die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (die ESTA-wet) vir voormalige plaasbewoners, wat uitgesit is of die plaas vrywillig ontruim het, regte met betrekking tot die besoek van grafte van naasbestaandes verleen, wat bly voortbestaan na die ontruiming van grond, vir watter rede ookal. Artikel 6(4), van die ESTA-wet verwoord hierdie reg en lees as volg:
(4) 'n Persoon het die reg om sy of haar familiegrafte op grond wat aan 'n ander persoon behoort, te besoek en in stand te hou, onderhewig aan enige redelike voorwaarde opgelê deur die eienaar of persoon in beheer van sodanige grond ten einde lewe of eiendom te beskerm of om die onbehoorlike ontwrigting van werksaamhede op die grond te voorkom
Uit ‘n menslikheid oogpunt en uit wedersydse respek en verdraagsaamheid tenoor die geloof en kultuur van ‘n ander, wat kragtens die Grondwet van Suid-Afrika behoort te bestaan, behoort die toepassing van bogemelde bepaling nie probleme te skep vir die gevalle waar die versoek om grafte op ‘n plaas te besoek afkomstig is van persone, wat aan die eienaar bekend is nie. Die reg word ook gekwalifiseer in die opsig dat dit erkenning verleen aan die eienaar se reg op veiligheid en die bedryf van bestaande boerdery-aktiwiteite op die grond.
Die saak word egter baie meer gekompliseerd wanneer persone, wat etlike jare of selfs dekades nooit op die grond besoek afgelê het of grafte onderhou het nie, skielik die eienaar versoek om grafte of die omgewing waar daar beweer word, voorheen grafte was, te besoek en selfs grafstene op te rig. Hierdie persone, wat die versoek rig, is heel dikwels nie bekend aan die bestaande eienaar nie en waar daar nie tekens van grafte is nie, kan dit die saak verder bemoeilik wanneer daar dele op die plaas, soos in die middel van ‘n bestaande mielieland, wat beplant word, uitgewys word as ‘n plek waar grafte was.
Daar is twee benaderings tot die probleem, naamlik om in goeie trou die aanspraak te erken of alternatiewelik binne die raamwerk van die bogemelde omskrewe reg die aanspraakmaker te versoek om ooreenkomstig die bewyslas, wat die aanspraakmaker in ‘n geregshof sou hê, bewyse vir die volgende te versoek:
- Die beweerde oorledene/s te identifiseer tesame met hulle datum van afsterwe
- Sy/haar familieverbintenis met die oorledene te bevestig en
- Bewyse te lewer van die ligging van grafte, waar dit nie meer, objektief gesproke, fisies soos met die aanwesigheid van gerangskikte klippe of grafstene bepaalbaar is nie.
Indien daar redelikerwys bevredigende bewyse gelewer kan word behoort daar met verwysing na die bogemelde erkenning wat die ESTA-wet verleen aan die eienaar se regte, ‘n geskrewe ooreenkoms gesluit word om die besoek en instandhouding van grafte na behore te bestuur
Indien daar nie bevredigende bewyse gelewer kan word nie en dit gekoppel kan word dat grafte vir ‘n baie lang ononderbroke tydperk nooit besoek is of in stand gehou is nie, behoort die eienaar toegang tot die grond te kan weier, tot die nodige en aanvaarbare bewyse voorgehou is. Dit is ook in hierdie omstandighede uiters belangrik om in die geval van aansprake, wat voortspruit uit ‘n tydperk, waar die beweerde oorledenes afgesterf het toe die plaas deur ‘n vorige eienaar besit was, behoorlike navraag te doen by die vorige eienaar of aangrensende bure oor die geskiedenis van die bewoning van die grond.
Bykomend tot die reaksie op ‘n versoek of aanspraak, soos hierbo vermeld sal dit wys wees om hierdie omstandighede pro-aktief te benader by die aankoop van nuwe grond. Dit sal verg dat die Koper by ‘n Verkoper navraag doen oor wie op die grond woon en selfs verder gaan deur inligting te bekom van persone wat op die plaas woonagtig was en nie meer daar woon nie.
Hierdie is ‘n saak wat sensitief en oordeelkundig benader moet word en waar kennis ontbreek is dit uiters raadsaam om regsadvies in te win en seker te maak dat ‘n dispuut regverdig en so vêr moontlik tot bevrediging van alle partye opgelos word.
RETURN