EDITORIALS
Die beskikbaarheid van geskikte alternatiewe akkommodasie by uitsettings: Wie se plig is dit?
As daar een saak is, waaroor daar gereeld in die howe tou-getrek word, is dit die vraag oor wie by uitsettings verantwoordelik is om vir persone wat afgesit word, alternatiewe akkommodasie te voorsien.
In praktyk gebeur dit sonder uitsondering dat die Staat en die nuwe Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en plaaslike munisipaliteite, die standpunt inneem dat die Grondeienaar, wat die uitsetting aanvra, hierdie verpligting dra.
Hierdie standpunte, word telkemaal in hofstukke geopper en is heel dikwels die enigste rede waarop uitsettingsake verdedig word en daar litigasie teen baie hoë koste gevoer word.
Selfs waar die bogemelde department kragtens Artikel 9(3) van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfregwet, Wet 62 van 1997 (ESTA), in ’n proefbeampteverslag, aan die Hof verslag moet doen oor die uitwerking van ‘n verkrygde uitsettingsbevel, sal die aanbeveling van die Departement wees dat ‘n uitsetting geweier moet word, omdat die Grondeienaar nie geskikte alternatiewe akkommodasie verskaf het nie.
Hierdie standpunt kom sonder twyfel neer op:
- die inlees van ‘n verpligting in die tersaaklike wetgewing wat nie bestaan nie, en
- ‘n misplaaste siening of selfs onkunde oor hoe die howe met hierdie kwessie tot op datum gehandel het.
Die inlees van ‘n verpligting in die wetgewing wat nie bestaan nie:
In beide die ESTA-wet en die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, Wet 14 van 1998 (beter bekend as die PIE-wet) word die kwessie van die beskikbaarheid van alternatiewe akkommodasie uitgedruk as ‘n faktor, wat die Hof moet oorweeg, by die verleen van ‘n uitsettingsbevel.
Daar word egter, in die eerste plek, nêrens en in die afwesigheid van alternatiewe akkommodasie, ‘n absolute verbod op ‘n uitsetting geplaas nie. Daarmee saam, en nog meer belangrik, vervat geen van die bogenoemde stukke wetgewing, wat daarop gerig is om uitsettings reguleer, ‘n bepaling, wat ’n verpligting op die privaat grondeienaars plaas word om die geskikte alternatiewe akkommodasie te verskaf, as ‘n voorvereiste vir die verkryging van ‘n uitsettingsbevel nie.
Die regsposisie en standpunt van die howe:
Die vraag wat nou mag ontstaan is, wie dan verantwoordelik is vir die voorsiening van geskikte alternatiewe akkommodasie.
Hierdie vraag word beantwoord in Artikel 26 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996 (“die Grondwet”) wat as volg lees:
26 - Behuising:
(1) Elkeen het die reg tot toegang tot geskikte behuising. (2) Die Staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls tref om binne sy beskikbare middele hierdie reg in toenemende mate te verwesentlik.
In die beslissing van die Grondeisehof van Westminister Produce (Pty) Ltd t/a Elgin Orchards v Simons stel Regter Gildenhuys, wat moes beslis oor ‘n uitsetting en hierdie spesifieke vraagstuk, die posisie as volg:
The obligation to provide access to alternative housing is an obligation imposed upon the State. The right is subject to “progressive” implementation. When the State cannot provide housing, Section 26(3) does not shift that obligation to private land owners.
Die bogemelde posisie het weerklank gevind in selfs die jongste uitsprake oor die onderwerp van selfs die hoogste Howe van Suid-Afrika.
‘n Verdere ondersteuning vir die howe se standpunt is die feit dat beide die ESTA- en PIE-wet, grondeienaars verplig om, alvorens ‘n uitsetting in die Hof aangevra word, kennis te gee aan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake of plaaslike munisipaliteit, of beide, van die voorneme om ‘n uitsetting aan te vra.
Deur hierdie verpligting op grondeienaars, wat uitsetting verlang, te plaas, het die Wetgewer sonder twyfel beoog om die Staat soos verteenwoordig deur bogemelde instansies (Departement en munisipaliteit), genoegsame geleentheid te verleen, om met die meganismes en stelsels in plek, ter voldoening aan die staat se bogemelde Grondwetlike, in te gryp en waar moontlik te verhoed dat ’n saak wat handel oor uitsetting tot die uiterste gevoer word, waar mense fisies deur die balju kragtens ’n lasbrief vir uitsetting van die hof, van die grond verwyder word en sonder ’n heenkome gelaat word.
Dit gebeur wel by uitsettingsverrigtinge dat Grondeienaars die verantwoordelikheid opneem om vir die persone, wat uitgesit staan te word, elders ‘n heenkome te vind, sonder om ’n volle regsproses te volg.
Sodanige stappe berus, soos hierbo aangetoon, nie op enige regsplig aan die kant van die eienaar nie, maar eerder op ’n pragmatiese stap van die eienaar ter vermyding van regskoste in uitsettingsverrigtinge. In die gevalle, waar daar samewerking van die persoon wat uitgesit staan te word, is om hom of haarself elders met behulp van die Grondeienaar te hervestig, is die resultaat seker en kan die onkostes, met meer sekerheid, bepaal en beperk word. Dit moet egter beklemtoon word dat hierdie stap alleenlik geneem behoort te word, met die volle samewerking van die persoon, wat hervestig word. Enige gedwonge hervestiging van ’n persoon en/of sy familie, sal op ’n onwettige uitsetting neerkom en is ’n krimineel vervolgbare misdryf.
Tussen die toepaslike regsbeginsels hierbo en die gevalle in praktyk, waar grondeienaars plaasbewoners met instemming hervestig, het die verkeerde verwagting van die owerhede ontstaan, dat grondeienaars die verpligting dra om alternatiewe akkommodasie by uitsettings te verskaf.
Die Staat hou die sleutel tot vreedsame oplossings by grond en verblyfgeskille en indien daadwerklike stappe gedoen word om gevolg te gee aan die staat se Grondwetlike verpligtinge sal dit moontlik die einde wees van die werklike oorsake van konflik rondom verblyf op landbougrond.
RETURN