EDITORIALS

Die aanspreeklikheid van sorgdraers van vee langs paaie

Die landelike gebiede van Suid-Afrika en Afrika as kontinent, is sonder twyfel ‘n omgewing waar die vooruitsigte van skade, verlies, beserings en selfs die dood die resultaat kan wees, van diere wat onverwags hul opwagting op en langs openbare paaie maak en meestal snags ‘n onbeligte versperring vir motoriste in die betrokke pad kan wees.

Hierdie gevaar is nog meer prominent in afgeleë omgewings waar daar baie min infrastruktuur soos heinings, grensdrade en behoorlike toegangshekke bestaan.

Die tragedie van die verlies of ernstige besering van ‘n geliefde en dalk minder ernstig, die beskadiging van voertuie, behoort genoegsame motivering vir enige eienaar van lewende hawe te wees, om nie alleen uit hoofde van ‘n regsplig weidingskampe en draadheinings langs openbare paaie op re rig en in stand te hou nie, maar behoort dit ook ‘n morele oortuiging te wees.

In die gevalle waar morele oorwegings en medemenslikheid nie eienaars en/of sorgdraers van lewende hawe noop om voorkomend op te tree nie, het ons regsstelsel so lank terug soos die Romeinse en Romeins Hollandse tydperk, remedies beskikbaar gestel aan ‘n persoon wat skade lei as gevolg van die diere van ‘n ander, ten einde skadevergoeding te eis.

Die eerste van hierdie remedies het nog sy oorspronklike latynse naam, nl. die actio de pauperie. Hierdie remedie stel baie streng aanspreeklikheid aan die eienaars van huishoudelike diere in plek in die opsig dat die eiser nie enige skuld in die vorm van ‘n opsetlike daad of nalatigheid aan die kant van die eienaar hoef te bewys nie.

Huishoudelike diere sluit, eenvoudig gestel, enige diere in waaroor mense beheer uitoefen, maar uitgesluit wilde diere. Die rede hiervoor is die feit dat sodanige diere se gedrag onvoorspelbaar geword het en daar sekere gedrag van diere te wyte en nie te wyte kan wees nie.

Die actio de pauperie stel die eienaar van huishoudelike diere aanspreeklik, indien eienaarskap van die dier bewys kan word, dat die dier teen sy aard een of ander gedrag, skade aan of vir iemand veroorsaak het en die skade, wat intree, toe te skryf is aan die dier se gedrag. Die mees bekende voorbeeld is ‘n hond wat iemand sou byt en beserings veroorsaak.

Daar is baie beperkte verwere tot die eienaar van die dier se beskikking van iemand wat as gevolg van skade veroorsaak deur diere, skade lei, is ‘n deliktuele eis wat in die meeste gevalle in hofsake toe te skryf is aan nalatigheid van die eienaar.

Skade op grond van nalatigheid binne die konteks van diere is, anders as in die geval van die actio de pauperize, nie alleen beperk tot eienaars van diere nie, maar kan ook uitgebrei word na persone wat in die afwesigheid van eienaarskap beheer uitoefen oor diere.

Regtens en eenvoudig gestel bestaan nalatigheid uit ‘n versuim om in bepaalde omstandighede, redelikerwys skade of verlies vir iemand te voorsien en ‘n versuim om redelike stappe te neem in die betrokke omstandighede, redelike stappe te neem om die skade of verlies te voorkom. Dit word heel dikwels prakties geïllustreer deur die voorbeeld van ‘n kampioen swemmer wat langs ‘n swembad sit waar iemand besig is om te verdrink en dan versuim om te help.

Die is binne die bogemelde regsraamwerk waar die howe ook oor tyd bepaalde beginsels vasgelê het rondom aanspreeklikheid vir skade wat veroorsaak word deur vee wat op die openbare paaie sou wei.

Daar is baie min bestaande hofsake waar die eiser kon slaag om op die basis van die actio de pauperie skade te verhaal vir skade wat deur lewende hawe op of langs ‘n openbare pad veroorsaak is. Daar blyk nie eenstemmigheid te wees oor die vraag of ‘n dier se teenwoordigheid langs die openbare paaie as strydig beskou behoort te word met die verwagte gedrag van diere, nie.

Die situasie sien egter anders daaruit as dit kom by ‘n deliktuele eis op grond van nalatigheid. In die algemeen is dit ‘n uitgemaakte saak dat die eienaar van ‘n omheining of draadversperring verplig is om sodanige omheining of versperrings in stand te hou. ‘n Versuim om hierdie plig na te kom en enige skade waar daaruit voortspruit, kan die eienaar aanspreeklik stel.

Die standaarde van instandhouding sal in meeste gevalle ‘n praktiese vraag wees. Bestaande boerdery praktyke en ‘n geskiedenis van bewese gebruikte omheinings om bepaalde diere van ‘n openbare pad af te versper, sal in die meeste gevalle die standaarde bepaal. Daarom kan byvoorbeeld getuies aangebied word van ervare boere om aan te toon welke omheining toereikend sou wees vir die aanhou van bepaalde lewende hawe om te verhoed dat die lewende hawe in ‘n openbare pad beland.

Daarmee saam sal toegangshekke en die mate waartoe dit sonder menslike tussenkoms oopgemaak en oopgelos kan word ook ‘n rol speel by die vraagstuk of nalatigheid aan die kant van die eienaar of sorgdraer was. Daar is selfs in bepaalde omstandighede bevind dat die breedte van ‘n motorhek in bepaalde omstandighede ontoereikend was om diere te weerhou om in of op ‘n openbare pad te land.

Indien daar nie aan redelike standaarde voldoen is nie, moet die oprigting en instandhouding van ‘n heining of versperring en die gebrekkige oprigting en instandhouding die moontlikheid van skade vir iemand in die vooruitsig sal stel, sal daar gronde wees vir ‘n eis teen die eienaar of persoon wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die heining.

Die vooruitsig van ‘n eis vir die verlies van byvoorbeeld onderhoud van afhanklikes as gevolg van die noodlottige besering aan ‘n broodwinner of ongeskiktheid as gevolg van die verlies van ‘n ledemaat of ‘n breinbesering, genoeg rede om met betreding tot grensheinings langs openbare paaie die nodige sorg aan die dag te lê.

Dit is belangrik dat veeboere met die beplanning en oprigting van grensdrade ‘n deeglike begrip het van die bogemelde regsimplikasies.

Dit is ook terselfdertyd wenslik en wys om in ieder geval voorsorg te tref vir behoorlike openbare regsaanspreeklikheid wanneer algemene versekering uitgeneem word, ten einde die onverwagse gevolge van ‘n siviele eis te bowe te kom.



RETURN