EDITORIALS

Veiligheid en Verblyfreg op Plase

In afgelope paar maande was ons die landbougemeenskap geruk deur te lees en te hoor van wrede plaasaanvalle en moorde. In die meerderheid van hierdie sake was die slagoffers weerlose mense soos bejaardes.

Hierdie toedrag van sake het plaaseienaars genoop om hulle paraatheid op te skerp en bykomende sekuriteitsmaatreëls te tref om te verseker dat hulle geliefdes veilig is en dat almal, wat andersins op hulle plase woon en moontlike teikens kan word veiliger is.

Alle maatreëls om veiligheid op te skerp is uit die aard van die saak afhanklik daarvan dat almal wat op plase woon saamwerk en dieselfde oogmerke nastreef. Ongelukkig gebeur dit nie altyd nie en in die uiterste gevalle gebeur dit ook soms dat plaasbewoners aanvallers behulpsaam is met die uitvoer van ‘n aanval deur inligting te verskaf of selfs aktief deel te neem in die uitvoer van ‘n plaasaanval.

Bewyse van ‘n plaasbewoner se deelname aan plaasaanval sal gronde daar stel vir die uitsetting en selfs die tussentydse dringende verwydering van so persoon, van die plaas af. Hierdie maatreël is ongelukkig reaktief en behoort daar geen twyfel te bestaan dat bitter min, indien enige afskrikkings effek het vir ‘n persoon of persone, wat ‘n plaasaanval beplan. Die vraag wat hieruit voortspruit, is wat grondeienaars se regte is ten opsigte van voorkomende veiligheidsmaatreëls op hulle plase en in besonder waar sodanige maatreëls die regte van plaasbewoners raak?

‘n Paar jaar gelede was ‘n eienaar van ‘n kersieplaas in die Fouriesburg-distrik met die regsaspekte van hierdie probleem gekonfronteer. Die betrokke plaas is in ‘n vallei tussen die berge geleë en word in twee dele opgesny deur ‘n openbare pad. Die kersieboorde, wat teen die helling van ‘n heuwel aan op een deel van die plaas gevestig was, was toeganklik vanaf die openbare pad deur te gebruik te maak van die toegangsroete tot die hoofopstal en pakstore op die plaas, maar toegang was ook geredelik en te voet moontlik vanaf enige gedeelte van die plaas wat langs die openbare pad geleë was.

Onderweg met die toegangspad na die hoofopstal was daar wooneenhede van ‘n aantal werkers, wat op die plaas woonagtig was, maar ook voormalige werkers wat na beëindiging van hulle diensooreenkoms nooit die plaas ontruim het nie.

Na verskeie jare se verliese op die kersie-oes, het die eienaar tot die gevolg gekom dat diefstal van die kersies die oorsaak is van die verlies was. Die diefstal was vergemaklik deur die toeganklikheid van die kersieboorde vanaf die openbare pad wat deur die plaas loop.

Die eienaar neem toe die besluit om die kersieboorde aan die kant van die openbare pad met ‘n elektriese heining weg te span en toegang te beperk tot ‘n elektroniese motorhek oor die toegangspad tot die plaas. Die heining het ook die bogemelde plaasbewoners uitgespan uit die gedeeltes van die plaas waar die kersieboorde geleë was, maar hulle het wel toegang behou deur van elektronies beheerde hek gebruik te maak.

Hierdie maatreëls het daarna die gewenste uitwerking in ‘n drastiese toename in ‘n winsgewende kersie-oes gehad, maar nie lank daarna was die eienaar gekonfronteer met ‘n hofaansoek waarin die plaasbewoners gevra het dat die heining verwyder moes word omdat dit ondermeer hulle verhoed het om besoeke aan grafte van oorlede familielede, aan die anderkant van die heining, te bring en oor die algemeen hulle voorafgaande vryheid van beweging op die plaas ingeperk het.

Die eienaar was suksesvol om die aansoek te opponeer vir die volgende opsommende redes:

  1. Die eienaar se beweegredes was geskoei op verdedigbare besluite en dit kon met historiese gegewens geboekstaaf word. Daar was gevolglik geen kwaadwillige motief vir die oprig van die heining nie;
  2. Die Wet op Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997, dit duidelik stel dat die uitoefening van regte van plaasbewoners in balans en nie tot uitsluiting van tot die eienaar se regte uit ge-oefen word nie en;
  3. Twee bepalings van die wet, wat handel oor die regte tot toegang tot die plaas deur besoekers, sodanige toegang onderhewig stel aan redelike maatreëls wat die eienaar mag toepas om lewens en eiendom te beskerm of om onregmatige ontwrigtinge van die werksaamhede op die plaas te voorkom.

Dit is gevolglik duidelik dat daar ruimte bestaan vir grondeienaars om redelike veiligheidsmaatreëls te implementeer en dat die heersende omstandighede rondom veiligheid op plase, toenemend die maatstaf kan word om die redelikheid van die veiligheidsmaatreëls wat grondeienaars moet tref, te regverdig. Dit beteken ook, sonder twyfel dat maatreëls, wat nie geregverdig kan word nie en vir kwaadwillige redes in plek gestel word, die grond-eienaar aan die risiko van ‘n hofbevel met ‘n meegaande kostebevel vir regskoste blootstel.

Prakties sal dit wys wees, om enige stappe rondom veiligheid, na gelang van die dringendheid daarvan, met redelike vooraf kennis op skrif aan persone wat daardeur geraak word, te tref.

Dit sal ook korrek en ‘n veilige stap wees om die besluit in die kennisgewing te motiveer en waar moontlik, aan persone of plaasbewoners, wat deur die stappe geraak word in die kennistydperk die geleentheid te gee om moontlike alternatiewe voor te stel. Hierdie stap behoort duur hofaansoeke soos in die bogemelde geval grootliks te voorkom, maar waar die eienaar wel met ‘n hofaansoek gekonfronteer word, sal hierdie stap, baie sterk in die eienaar se guns tel indien daar in die kennis tydperk nie reaksie was of indien daar nie alternatiewe voorstelle van enige persoon ontvang was nie.



RETURN