EDITORIALS

Probleme met kriminele klagtes

In die Suid-Afrikaanse regstelsel is daar twee soorte gedinge waarmee geskille tussen landsburger opgelos kan word, naamlik siviele en kriminele sake.

Siviele sake kan onderskei word van kriminele sake in die opsig dat dit normaalweg ‘n geding is tussen twee persone of instansies oor ‘n dispuut, wat handel oor die pleeg van ‘n misdryf nie. Dit is, byvoorbeeld, waar een persoon ‘n ander persoon sou aanspreek vir geld, wat verskuldig is. Om geld te skuld is nie ‘n misdryf nie, maar in ‘n siviele saak kan die skuldeiser die geld eis deur dagvaarding teen ‘n skuldenaar uit te reik en die gelde verskuldig te vorder.

Kriminele sake aan die ander kant, is ‘n saak, wat volg op klagte van ‘n persoon of ‘n instansie, wat beweer dat ‘n ander persoon ‘n misdryf gepleeg het. Die klag word van stapel gestuur wanneer ‘n klaer, ‘n klag in ‘n eedsverklaring by die Suid-Afrikaanse polisie indien, of waar die polisie of ander instansie iemand betrap in die pleeg van ‘n misdryf. In ‘n kriminele saak word ‘n misdadiger nie vervolg deur die persoon, wat die klag lê nie, maar deur die staat, wat in belang van die land en sy inwoners misdadigers vervolg, om hoofsaaklik openbare orde en die veiligheid van landsburgers te verseker.

In die geval van misdryf van bedrog, kan daar ‘n kriminele saak wees vir die pleeg van die misdryf, maar mag daar ook gevalle wees waar ‘n Eiser in ‘n siviele saak skadevergoeding kan verhaal van die bedrieër, wat as gevolg van die bedrog teweeggebring is.

Die staat word in kriminele sake verteenwoordig deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat misdrywe ondersoek, en die Vervolgingsgesag, wat bekend staan as die Direkteur van Openbare Vervolgings (“DOV”), wat die polisiediens lei in hulle ondersoeke ten einde ‘n saak met die nodige meriete in die hof te kan aanbied teen die beskuldigde. Hierdie saak, tesame met die meeste bewysstukke, word in die polisiedossier vervat.

Daar ontstaan, teen die bogenoemde agtergrond, en vir doeleindes van hierdie bespreking, egter soms ‘n probleem, waar kriminele klagte aanhangig gemaak word en deur ‘n paar eenvoudige korrekte navrae by bogemelde rolspelers opgelos kan word. Die probleme sluit die volgende in:

  1. Die polisie weier om ‘n klag of rapportering van ‘n klag te aanvaar
  2. Die ondersoek van klagtes nie vorder nie,
  3. Die klaer nie op hoogte gehou word van vordering nie,
  4. Die saak in die niet verdwyn
  5. Die Staat weier om te vervolg
  6. ‘n Kriminele saak nie aangevoer word nie, omdat die aanklaer van mening is dat die aard van die klag ‘n siviele saak is.

Daar mag wel geldige redes vir die bogemelde toedrag van sake of probleme, wat ondervind word, maar daar mag ook omstandighede wees waar die bogemelde toedrag van sake, vir redes mag ontstaan, wat nie aanvaarbaar is nie. Daarvoor is daar regtens en in praktyk oplossings.

Daar bestaan eerstens geen rede vir die polisie om nie ‘n klag te aanvaar nie, of in die geval van gebrekkige bewyse ‘n klagte in ‘n voorvalleboek, wat gehou word by elke polisiestasie, aan te teken nie. Indien daar geweier sou word, sou ‘n klaer kon aandring op skriftelike redes vir die weiering en sal dit wenslik dat wees dat so versoek ook op skrif gestel word.

Die vernaamste rede waarom sake nie vervolg behoort te word nie, is die gebrek aan getuies of waar die klagte van so aard is dat die beskrywing in die klaer se eedsverklaring en ander bewyse, wat die “DOV” moet oorweeg, nie genoeg getuies en bewyse vervat om die Staat se saak, bo redelike twyfel teen die beskuldigde te bewys nie. Dit is vir hierdie rede nodig om gebeure rondom ‘n bepaalde klagte behoorlik in die aanvanklike klagte beskryf, sodat dit vir die polisie maklik is om die klag te ondersoek en bewyse in te samel. Dit is ook goed om ander getuies te identifiseer.

Klaers is geregtig om op hoogte gehou te word van ‘n ondersoek en by gebrekkige terugvoer behoort navrae aan die betrokke stasiebevelvoerder in meeste gevalle die probleem op te los. Dit is vir hierdie doeleindes om die saaknommer van ‘n bepaalde klagte in veilige bewaring te hou omdat dit normaalweg die verwysing vir navrae is. Dit kan ook die SAPD in staat stel om diefstal of bedrog met betrekking tot dossiere te ondersoek.

Sodra ‘n ondersoek afgehandel is, word die dossier aan die DOV, soos verteenwoordig in die betrokke distrik, se staatsaanklaers oorhandig om te besluit om die vervolging voort te sit. Indien die vervolging voortgesit word, word die saak op die rol van die strafhof geplaas sodat die beskuldigde aangekla kan word en die hof in staat gestel word om getuies, na gelang van die beskuldigde se pleit, aan te hoor en/of ‘n bevinding te maak.

Deur die volle verloop van die bogemelde proses kan vertragings of ‘n weiering om te vervolg met die gebruik van die klagtenommer of ‘n saaknommer met die DOV opgevolg word en waar die DOV, nie wil vervolg nie, kan die klaer die DOV versoek om amptelik in Sertifikaat van Geen Vervolging (nolle prosequi) te verklaar dat hulle nie vervolging voortsit nie.

‘n Sertifikaat van geen vervolging sal in meeste gevalle daartoe aanleiding gee dat ‘n dossier op provinsiale of nasionale vlak aangevra word ten einde die DOV in staat te stel om ‘n ingeligte besluit te neem en is dit in meeste gevalle die beste wyse om enige van die bogemelde probleme te bowe kom indien daar ongerymdhede is in enige onredelike besluite of versuim om besluite te neem ter sprake mag wees. Dit plaas druk op die staat om die besluit op grondige redes te neem.

In ‘n tyd waar misdaad, in die landelike gemeenskappe toenemend ‘n probleem raak, is dit belangrik om met die bogemelde kennis klagte op te volg en seker te maak dat misdadigers aan die pen ry en nie moed te verloor met die proses nie.



RETURN