EDITORIALS
Kan ‘n huurarbeider nou ‘n eis indien vir die toekenning van ‘n stuk grond?
Die antwoord op hierdie vraag is, in ‘n neutedop, “nee”.
‘n Huurarbeider moes voor of/op 31 Maart 2001 in terme van Artikel 16 van die Wet op Grondhervorming (Huurarbeiders), Wet 3 van 1996 (“Huurarbeiderswet) ‘n aansoek by die Direkteur-Generaal van Grondsake ingedien het vir die toekenning van ‘n bepaalde stuk grond.
Talle plaaseienaars word konfronteer met eise van persone wat beweer dat hulle huurarbeiders is en wat, in die eerste plek, ‘n stuk grond eis en, in die tweede plek, versoek om regtens as huurarbeider verklaar te word en dan ‘n toekenning van ‘n stuk grond eis wat na bewering oor tyd deur die huurarbeider op die plaas gebruik was.
Daar word in hierdie sake van die plaaseienaar verwag om hierdie regsaksies, vir die toekenning van grond, op hul eie onkoste te verdedig terwyl die huurarbeider se koste (of die eis meriete het of nie) deur die Staat finansier word.
Dit is belangrik om te om onthou dat, ten einde te slaag met ‘n huurarbeiderseis, ‘n persoon eerstens aan al drie die volgende vereistes moet voldoen:
- Die persoon moet op die plaas woon of moet die reg hê om op die plaas te woon;
- Die persoon moet die reg hê om die grond vir aanplanting of weiveld te gebruik en in ruil vir die gebruik arbeid aan die eienaar of verhuurder van die grond verskaf het; en
- Die persoon se ouer of grootouer moes ook op ‘n plaas gewoon het en weidings-en aanplantingsregte gehad het inruil vir sy arbeid.
Tweedens, ten einde te slaag met ‘n eis vir ‘n toekenning van ‘n stuk grond, moes die eiser voor of/op 31 Maart 2001 die aansoek om toekenning ingedien het. Die Grondeisehof is slegs by magte om ‘n toekenning van ‘n stuk grond te gelas indien die betrokke huurarbeider tydig (voor of/op 31 Maart 2001) ingedien het.
Die Huurarbeiderswet verleen gevolglik nie magte aan die Grondeisehof om ‘n toekenning van ‘n stuk grond te maak indien die eiser nie betyds aansoek gedoen het vir die toekenning van grond nie. Die rede hiervoor is dat die toekenning van grond ‘n finansiële las op die Staat plaas. ‘n Huurarbeider wat, in terme van die Huurarbeiderswet, op die toekenning van grond geregtig is, kan by die Minister aansoek doen ‘n subsidie of toelaag vir die verkryging (aankoop) van die grond van die plaaseienaar en vir die ontwikkeling van die grond wat deur die huurarbeider okkupeer of okkupeer gaan word.
Indien die huurarbeider wel tydig ‘n aansoek om ‘n toekenning van grond gedoen het kan die huurarbeider nie van die grond afgesit word terwyl sy/haar aansoek om toekenning van grond nog hangende is nie. Indien die Hof egter, na oorweging van verskeie faktore, oortuig is dat spesiale omstandighede die verlening van ‘n uitsettingsbevel regverdig, kan die Hof die uitsetting van so ‘n huurarbeider gelas. Spesiale omstandighede sluit in optrede wat neerkom op die wesenlike skending van die verhouding tussen die eienaar en die huurarbeider.
Indien die eiser nie die tydig die aansoek vir ‘n toekenning van grond ingedien het nie, het sy/haar reg om aansoek te doen ook dus verval. In so ‘n geval sal die eiser hoogstens as ‘n huurarbeider sal kwalifiseer (indien sy aan die drie vereistes om as ‘n huurarbeider te kwalifiseer, voldoen) en die Huurarbeiderswet die verhouding tussen die huurarbeider en die plaaseienaar sowel as die proses wat gevolg moet word om die huurarbeider van plaasgrond af te sit, reguleer.
Clarissa Pienaar, Moolman & Pienaar Ingelyf
RETURN