EDITORIALS

Is die regulasies onder die Wet op Eiendomswaardasies, Wet 17 van 2014 ‘n rede tot kommer?

Die omstredenheid oor die vraag oor wat as regverdige en billike vergoeding by grond onteiening beskou moet word het in die afgelope paar maande sy hoogtepunt bereik met gevaarlike uitsprake, wat selfs so vêr gegaan het dat die betaling van vergoeding by die verkryging van grond vir grondhervorming in totaliteit afgeskaf moet word.

Te midde van hierdie politieke druk is daar regulasies onder Wet op Eiendomswaardasies, Wet 17 van 2014 (“die EW-wet”) gepubliseer vir kommentaar, wat daarop dui dat daar deur middel van die regulasies, soos dit tans daaruit sien, afgesien gaan word van markwaarde, soos geskoei op die basis van ‘n vrywillige koper en verkoper, as grondslag vir vergoeding aan bestaande eienaars.

Om die vertrekpunt vir die regulasies beter te verstaan moet artikel 25(3) van die Grondwet wat as volg lees oorweeg word:

(3) Die bedrag van die vergoeding en die tyd en wyse van betaling moet regverdig en billik wees, en moet 'n billike ewewig toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede, met inbegrip van-

  1. die huidige gebruik van die eiendom;
  2. die geskiedenis van die verkryging en gebruik van die eiendom;
  3. die markwaarde van die eiendom;
  4. die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat ten opsigte van die verkryging en voordelige kapitale verbetering van die eiendom; en
  5. die doel van die onteiening.

Die regulasies, as uitvloeisel van die EW-wet, poog om al die faktore in a)-c) hierbo te versoen met die konsep van regverdige en billike vergoeding in die plek van ‘n oënskynlike veronderstelling dat slegs markwaarde, tot uitsluiting van die ander faktore, die afgelope 23 jaar as basis van vergoeding gebruik is. Om dit te doen word daar in die regulasies gepoog om prakties te werk te gaan om die ander faktore, hierbo genoem, met die berekening van redelike en billike vergoeding te versoen.

In ‘n onlangse voorlegging van die kantoor van die Waardeerder Generaal, wat in die EW-wet in die lewe geroep is, aan belangegroepe, was dit kommerwekkend dat baie van wat in die regulasies vervat is, nie verduidelik kon word nie.

Die mees omstrede aspek van die voorlegging was die, vrylik vertaalde begrip, van “huidige gebruikswaarde” wat voortaan by die markwaarde van grond getel sal word, voordat die som van die twee bedrae deur twee gedeel sal word om die vergoedingsbedrag aan die huidige eienaar te betaal. Die algemene gevolgtrekking uit die verduidelikings wat gegee is, maar wat nie so duidelik uit die regulasies blyk nie, is dat die hierdie berekeningswyse amper sonder uitsondering ‘n verminderende effek op grondwaardes sal hê.

‘n Verdere begrip wat by grondwaardes in berekening gebring gaan word is die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat ten opsigte van die verkryging en voordelige kapitale verbetering van die eiendom. Hierdie faktor wat in berekening gebring word strook met die Grondwet, maar skep ‘n problem as die eienaar wat voordele uit staatssubsidies ontvang het, nie meer die eienaar van die grond is en ‘n opeenvolgende eienaar vir die grond met alle verbeterings daarop vergoed het. Die opeenvolgende eienaar het nie voordeel getrek uit die subsidie en inderdaad ten volle daarvoor betaal.

Bogenoemde is maar net ‘n paar van die enkele begrippe waarop daar nie klinklare antwoorde verskaf kon word nie, maar daar is ook ‘n moontlike Grondwetlike probleem met die regulasies.

Die EW-Wet se oogmerke word duidelik uitgespel, maar die hoofoogmerke word nie in die wet aangepreek nie. In plaas daarvan dat die wet die kriteria vervat waarvolgens regverdige en billike vergoeding voortaan by Grondhervorming bereken moet word, word daar in die EW-Wet magte aan die Minister verleen om by wyse van regulasies hierdie kriteria te beskryf. So drasties is die verskil tussen die inhoud en omvang van die regulasies indien dit met die EW-wet vergelyk word dat die parlement nie uit die inhoud van die wetgewing souk on voorsien watter riskante bepalings later in die regulasies vervat sou word nie.

Met verysing na die bogemelde verskil en die feit dat die minister nie wetgewende beveogdheid het nie, maar deel is van die uitvoerende gesag, kan daar geargumenteer word dat enersyds te wye magte aan die minister in die EW-wet verleen is of, alternatiewelik, dat die minister in die regulasies sy bevoegdhede oorskry het.

Daar kan ook met reg en ter afsluiting gevra word waarom daar na 23 jaar van grondhervorming, daar nou na ander wyses vir die berekeing van vergoeding gekyk word.

Is dit die werklik en enigste uitweg of sal daar met ‘n eerlike berekening van die totale bedrae, wat oor 23 jaar, deur die staat vir grondhervorming bewillig is en werklik, in ruil vir werklike waarde van geld, spandeer is, aangetoon kan word dat grondeienaars en nie die staat nou die prys sal moet betaal vir jare en jare se uiters swakbestuurde grondhervormingsprogram?

Grondhervorming is noodsaaklik om die ongelykhede van die verlede reg te stel, maar daar sal sterk leierskap en strategiese bestuur van belangegroepe in die lanbou aan die dag gelê moet word om hierdie saak binne die raamwerk van ons Grondwet en reg te bestuur en te verhoed dat dit ‘n speelbal vir ander motiewe en doelwitte word, wat ons land baie duur te staan sal kom.



RETURN