EDITORIALS

Wysigingswet op Herstel van Grondregte - ongerondwetlik verklaar op 28 Julie 2016

Die Wysigingswet op Herstel van Grondregte, Wet 15 van 2014 is ongrondwetlik verklaar, maar wat is die uitwerking hiervan op Grondhervormimg?

In terme van Artikel 25(7) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996 (die “Grondwet”) is enige persoon of gemeenskap wat na 19 Junie 1913 weens rasgebaseerde wetgewing van die besit van eiendom ontneem is, geregtig op die teruggawe van die betrokke eiendom of op billike vergoeding, in die mate wat dit deur ‘n Parlementswet bepaal word. Hierdie persone sluit ook mense in wie se eiendom destyds deur die Ontwikkelingstrust ten behoewe van die voormalige tuislande (TBVC-state) onteien is en wie nie billike vergoeding ontvang het nie.

Dit is juis in terme van dié bepaling wat die Parlement die Wet op Herstel van Grondregte, Wet 22 van 1994 (die “Wet”) uitgevaardig het om sodoende grondhervormingsproses te beheer. In terme van die Wet, het die sluitingsdatum vir die indiening van restitusie-eise egter reeds op 31 Desember 1998 verstryk en kon geen eise na die gemelde datum ingedien word nie, mits ‘n Parlementswet vir ‘n verdere verlenging van die indieningstydperk voorsiening maak.

Die indieningstydperk het verstryk, en soos verwag, het persone wat geregtig was om restitusie-eise in te dien, nie die eise binne die voorgeskrewe tydraamwerk ingedien nie. Om hierdie rede is die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte, Wet 15 van 2014 (die “Wysigingswet”) uitgevaardig ten einde die venstertydperk vir die indiening van restitusie-eise te heropen en te verleng tot 30 Junie 2019.

Die Wysigingswet het op 1 Julie 2014 inwerking getree en het die Kommissie vir die Herstel van Grondregte (die Kommissie) die standpunt, ooreenkomstig Artikel 6(g) van die Wysigingswet, ingeneem dat alle eise wat voor 31 Desember 1998 ingedien is, eers afgehandel moet word alvorens die nuwe eise aandag sal geniet.

Die Konstitusionele Hof moes egter onlangs oor die grondwetlikheid van die Wysigingswet, in die saak van Land Access Movement of South Africa and Others v Chairperson of the National Council of Provinces and Others (CCT40/15) [2016] ZACC 22 (28 July 2016), beslis.

Die Applikante in die saak het aangevoer dat die Parlement in stryd met Artikel 72(1)(a) van die Grondwet opgetree en het die Konstitusionele Hof ook bevind dat die Parlement versuim het openbare deelname en/of betrokkenheid ooreenkomstig die bepaling te fasiliteer. Weens die versuim, is die Wysigingswet ongrondwetlik verklaar vanaf die datum waarop die Hof die uitspraak gelewer het, naamlik 28 Julie 2016.

Die vraag wat nou na vore kom is natuurlik, wat die gevolg van die uitspraak is op:

  1. eise wat ingedien in terme van die Wet (met ander woord voor die eerste afsnydatum van 31 Desember 1998);
  2. eise wat ingedien is in terme van die Wysigingswet (met ander woorde eise ingedien vanaf 1 Julie 2014 tot 28 Julie 2016); en
  3. eise wat nog nie ingedien is nie.

Eise wat ingedien in terme van die Wet (met ander woord voor die eerste afsnydatum van 31 Desember 1998)

Hierdie eise sal in terme van die Wet ondersoek en afgehandel word en word nie deur die uitspraak in die Land Access Movement-saak beïnvloed nie.


Eise wat ingedien is in terme van die Wysigingswet (met ander woorde eise ingedien vanaf 1 Julie 2014 tot 28 Julie 2016)

Die Hof het beslis dat die Wysigingswet, wat voorsiening maak vir die verlenging van die tydsraamwerk waarbinne restitusie-eise ingedien kan word, ongrondwetlik is en het die Hof die Parlement gelas om binne 24 maande weer ‘n Wet te verorden wat voorsiening maak vir die indiening van restitusie-eise soos beoog in Artikel 25(7) van die Grondwet deur publieke deelname te fasiliteer.

Die Hof het bevind dat dit nie regverdig sal wees om die eise wat reeds in terme van die Wysigingswet ingedien is, ongeldig te verklaar nie aangesien lede van die publiek reeds stappe geneem het in terme van die Wysigingswet met die veronderstelling dat die Wysigingswet geldig is. Die eise wat dus in tussen 1 Julie 2014 tot 28 Julie 2016 ingedien is, bly dus geldig en van krag.

Dit moet nie uit die oog gelaat word dat, hoewel hierdie eise van krag bly, die eise ingestel is in terme van ‘n Wysigingswet wat ongrondwetlik verklaar is. Om hierdie rede het die Hof beveel dat, hangende die herverordening van ‘n Parlementswet wat voorsiening maak vir die heropening van die indieningstydperk van eise (wat binne 24 maande vanaf die bevel verleen is moet geskied), die Kommissie verbied word om enigsins hierdie eise te ondersoek en/of te skik.

Die Hof het egter bepaal dat, indien die eise wat ingedien is voor 31 Desember 1998 afgehandel is, voordat die Parlement wetgewing herverorden, die Kommissie wel die eise wat ingedien is tussen 1 Julie 2014 tot 28 Julie 2016 mag ondersoek.


Eise wat nog nie ingedien is nie

Op hierdie stadium is daar nie wetgewing wat instel van verdere restitusie-eise in terme van Artikel 25(7) van die Grondwet magtig nie en kan daar dus geen nuwe eise ingestel word nie.

Wat verder insiggewend is, is dat die Hof bepaal het dat die Parlement binne 24 maande vanaf ‘n nuwe Wet moet verorden wat die instel van restitusie-eise reguleer en, indien die Parlement dit nie doen nie, kan die Grondeisekommissaris en enige persoon wie ‘n direkte belang in die bevel het, binne twee maande na verstryking van die gemelde 24 maande, die Hof nader vir ‘n gepaste bevel rakende die hantering en skikking van die uitstaande en nuwe eise.

In ‘n neutedop kan daar aanvaar word dat die Wetgewer oor die vingers getik is rakende die prosedure wat gevolg is om die Wysigingswet te verorden deurdat openbare deelname onredelik en dus ongrondwetlik was. Die Wetgewer moet, deur behoorlike prosedure te volg, die wetgewing herverorden wat die verlenging van die indieningstydperk voorsiening maak en, indien die Wetgewer dit nie binne twee jaar doen nie, kan die Hof genader word vir ‘n gepaste bevel.

Die uitspraak kom verder daarop neer dat eise wat reeds ingedien is sedert 1 Julie 2014 tot 28 Julie 2016 van krag bly maar dat die Kommissie nie die eise mag prosesseer alvorens die eise ingedien voor 31 Desember 1998 nie afgehandel is nie.

Clarissa Pienaar, Moolman & Pienaar Ingelyf



RETURN