EDITORIALS

Beeste en plaasbewoners

Plaasbewoners/-werkers wat toegelaat word om beeste aan te hou op die plase waar hulle werk is, is sonder twyfel een van die kwessies wat die meeste en omvangrykste dispute tussen Grondeienaars en plaasbewoners veroorsaak.

Die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997 (“ESTA”) tref ’n onderskeid tussen fundamentele regte wat plaasbewoners beskerm, omskryfde regte in die wet, wat plaasbewoners geniet in opweging met die regte van die eienaar en regte wat plaasbewoners ontleen uit hoofde van ’n ooreenkoms met die eienaar.

Vir doeleindes van hierdie artikel val die klem op die laasgenoemde welke in Artikel 6 van ESTA vervat is.

Regte wat voortspruit uit ’n ooreenkoms met die eienaar ontstaan uit ’n ooreenkoms of toestemming vir ’n bepaalde gebruik van die grond en word verder gekwalifiseer, dat hoewel die plaasbewoner regte verkry, dit in opweging met die regte van die grondeienaar uitgeoefen moet word. Anders gestel, word dit wat grondeienaars plaasbewoners toelaat ’n reg, maar moet die uitoefening van die reg op so wyse plaasvind dat dit nie onbehoorlik inbreek maak op die grondeienaar se regte nie.

Toestemming om vee (beeste, skape, bokke, perde) aan te hou is so ’n reg wat ontstaan uit ’n ooreenkoms en is nie ’n inherente reg wat uit ESTA ontleen word nie. Vir daardie rede is die belangrik om te weet, dat in die gevalle waar sodanige toestemming verleen is aan plaaswerkers/bewoners, die toestemming gereguleer kan word, deur onderhewig te maak aan baie belangrike voorwaardes in ’n ooreenkoms, naamlik:

  1. Hoeveel vee aangehou mag word;
  2. Waar vee aangehou moet word, wat ok kwessies soos omheining en die hantering van toegangshekke mag insluit.
  3. Die bestuur van toegang tot water vir vee op die plaas;
  4. Die bestuur van die aanwas van vee wat op die plaas aangehou word;
  5. Die hantering van die risiko van genetiese vermenging van beesrasse en in besonder kontak van stoetvee met vee van ander rasse op dieselfde stuk grond.

Bykomend tot die inhoud wat aan ’n ooreenkoms of toestemming om vee aan te hou, is dit ook nodig om tred te hou met wetgewing wat deur beide grondeienaar en grondgebruikers of eienaars van vee nagekom moet word, ongeag enige status wat uit ESTA of enige ander grondhervormings-wetgewing ontleen word. Hierdie wetgewing en die nakoming daarvan kan ook uitdruklik deel gemaak word van die bogenoemde voorwaardes, maar geld selfs al was dit nooit eksplisiet deel gemaak van die voorwaardes waarop toestemming aan ’n plaasbewoner verleen is om vee aan te hou nie.


DIE WET OP BEWARING VAN LANDBOUHULPBRONNE, WET 43 van 1983

Die oogmerk van hierdie Wet, wat deel is van Suid-Afrika se omgangswetgewing, is die bewaring van landbouhulpbronne. Twee van die bedreigings, wat hierdie wetgewing aanspreek, is oorbeweiding en die gevolge daarvan soos gronderosie en die vernietiging van die natuurlike weiding.

Kragtens die Wet en regulasies, daar kragtens uitgevaardig, mag grond nie oorbewei word nie en word dan na gelang van die berekende drakrag van bepaalde landbougrond in ’n klimaatstreek, ’n beperking geplaas op die aantal grootvee per hektaar, wat aangehou mag word op ’n bepaalde stuk grond in die betrokke streek waar die grond geleë is. Die Wet gee aan die Departement van Landbou die bevoegdheid om by wyse van ’n direktief te gelas, dat ’n plaas of gedeelte daarvan gerehabiliteer moet word, waar die natuurlike weiding beskadig of vernietig is of waar gronderosie as gevolg van oorbeweiding voorkom. Rehabilitasie kan etlike jare neem en mag ook verg dat alle vee wat op ’n bepaalde stuk grond wat oorbewei is vir die volle tydperk van rehabilitasie verwyder word.

Grondeienaars kan ook by die oorskryding van regte om vee aan te hou en wat skade soos hierbo genoem, tot gevolg gehad het, die Hof nader om in te gryp ten einde die grondeienaar van hulp te wees om die landbouhulpbronne op die betrokke plaas te beskerm. Dit verg egter dat ’n weidings deskundige die betrokke oorbeweide veld ondersoek en die skade en rehabilitasie maatreëls wat nodig is bepaal. Ooreenkomstig die wetgewing sal die hof dan by wyse van bevel of interdik kan gelas dat die rehabilitasie voorskrifte nagekom moet word, voordat vee weer op die betrokke oorbeweide deel van die plaas aangehou mag word.


DIE WET OP DIERESIEKTES, WET 35 VAN 1984

Kragtens hierdie wetgewing en die bestaande gebruike van ’n bepaalde distrik rus daar ’n plig op die eienaars van vee om diere voorkomend te behandel teen veesiektes en parasiete. Beide grondeienaars en plaasbewoners moet gehoor gee aan hierdie wetgewing en raak dit in besonder belangrik waar voorkomende behandeling en optrede geverg word vir algemene dieresiektes. Beheer oor dieresiektes speel ’n baie groot rol by die voorkoming van byvoorbeeld die oordrag van geslagsiektes van besmette manlike diere na onbesmette kuddes, wat al baie groot skade vir veeboere veroorsaak het.

Vir grondeienaars is dit, met verwysing na die bogenoemde regsomgewing, belangrik om met voorbeeld leiding te gee oor gesonde praktyke wat geverg word rondom die aanhou van vee, maar wat nog meer belangrik is om die volgende maatreëls in plek te stel:

  1. Behoorlike ooreenkomste rondom die aanhou van vee;
  2. Behoorlike kennis van bestaande goeie praktyke en wetgewing, ook in Suid-Afrika die aanhou van vee reguleer;
  3. Om met beide voorlopige en waar nodig met drastiese ingrypings te verseker dat die aanhou van vee op plase korrek en volhoubaar plaasvind.


RETURN